Valiant Swart @ Potters Place

Valiant Swart het oor die jare ‘n reputasie as eersteklas vermaakkunstenaar opgebou, en word ook bestempel as een van die voorste Afrikaanse liedjieskrywers van die afgelope twintig jaar. Oppikoppi of Skouspel, rock- en kunstefeeste of in musiekklubs en teaters landwyd, ‘n Valiant-vertoning is ‘n belewenis vir enige gehoor. Valiant se meer as drieduisend optredes op sy kerfstok is of solo met kitaar en mondfluitjie in ‘n intieme teateratmosfeer, of op ‘n groot verhoog met sy manjifieke band.

Afgesien van Suider-Afrika, het hy al opgetree in die VSA, Engeland en Nederland. Hy word wyd gerespekteer as liriekskrywer, en het reeds meer as ‘n honderd oorspronklike komposisies op CD vrygestel.

Valiant het leer kitaar speel toe hy elf jaar oud was. Hy het kort daarna liedjies begin skryf en in sy hoërskooljare in ‘n hele paar bands gespeel, van rock tot boeremusiek. Tydens sy studentejare op Stellenbosch het hy die musiek van Bob Dylan en Jimi Hendrix ontdek, en ook ‘n groot blues-aanhanger geword. Hy het in 1987 ‘n BA-graad verwerf, met as hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Engels.

In 1988-89, tydens militêre diensplig, het hy Koos Kombuis (André Letoit) ontmoet. Hy het saam met Letoit in die rokerige kroeë van Hillbrow begin optree en hom in alle erns as Afrikaanse liedjieskrywer begin bekwaam. In 1990 het hy voltyds begin om ‘n bestaan te voer met sy liedjies en sy kitaar.

Valiant het reeds veertien CD’s die lig laat sien. Sy eerste, Die Mystic Boer, is in 1996 vrygestel. Hy was ook die produksieleier op verskeie albums van ander kunstenaars, en het gasoptredes op talle van hul albums gelewer. Van Suid-Afrika se grootste sterre, soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Piet Botha en Nic Stevens, het al van sy liedjies opgeneem, waaronder die treffers ‘Sonvanger’, ‘Eyeshadow’, ‘Jakarandastrate’ en ‘Duisend Myl Blues’. Vele kunstenaars gebruik Valiant se liedjies as deel van hul verhoog-repertoire.

In 2001 het kykNet hom op ‘n blues-reis na Amerika gestuur. Die resultaat was die dokumentêre TV-reeks, Veertig dae deur die Delta , waarmee kykers getrakteer is op Valiant se blues-avonture in Tennessee, Mississippi en Louisiana. Die sukses van hierdie reeks het gelei tot sy akteursdebuut, in die hoofrol as dr Jinx in kykNet se Song vir Katryn trefferreekse. Met rekord-kyksyfers en ‘n klankbaan-album wat goue status verwerf het, het “Katryn” van Valiant ‘n huishoudelike naam gemaak.

Die afgelope paar jaar het hy voorts gewildheid verwerf as rubriekskrywer vir die tydskrifte rooirose en Baba en Kleuter, waarin die lief en leed van sy status as ruk-en-rol gesinsman op dikwels komiese wyse weergegee word. Ander artikels uit sy pen het al verskyn in Insig, Wegbreek en Sports Illustrated.

Valiant is ‘n vurige ondersteuner van die Springbokke en die Proteas. Hy skree ook hartstogtelik vir die WP, die Stormers en Maties. In sy vrye tyd vang hy vis, lees en fliek tuis, en versamel rooiwyn en goedkoop kuns. Hy ry ‘n swart 1968 Valiant Rebel sonder wieldoppe, en ook ‘n ou Nissan Hardbody bakkie.

Op ‘n vorige sensusvorm is hy formeel as ‘ongeskoolde trekarbeider’ genoteer, en by sy terugkeer na ‘n vroeëre besoek aan die buiteland is hy amptelik die RSA as ‘soothsayer’ binnegelaat.

Bookings essential

If you have any inquiries regarding the shows, don't hesitate to email or phone us.

Skakel of mail ons gerus oor alle show navrae.

Tel. : 042 293 2500 
E-mail : bookings@pottersplace.co.za

Fees : R100.00 p p

Event Categories: Events.

Place Your Review

Rate this place by clicking a star below :

Send To Friend

Captcha Verification
captcha image

Send Inquiry

Captcha Verification
captcha image